“Scholen maken mensen,” skryf die Nederlandse professor Martinus Langeveld. Dít is ook waar van Windhoek Afrikaanse Privaatskool. Die maak van mense is nie ’n meganiese fabriekstaak met identiese eindprodukte en gestandaardiseerde afmetings nie. Dit is ’n veel ingewikkelder taak wat God se pottebakkershande, toegewyde ouers van kleintyd af, en geroepe, passievolle onderwysers van skooltyd af verg.
Gegewe WAP se geskiedenis van prestasie oor ’n wye spektrum, die hoë maatstaf wat die beheerraad aan ons stel, die verwagtinge wat ouers vir hulle kinders koester, maar – meer belangrik – die belangrikheid van die verantwoordelikheid wat God aan ons toevertrou het om met Sy kinders te werk, is daar by my geen twyfel dat ons die “ideale produk” wat Windhoek Afrikaanse Privaatskool wil lewer, kan formuleer aan die hand van die volgende bestanddele nie:
• Waardegedrewenheid
• Afgerondheid
• Selfstandigheid
• Selfversekerdheid
• Onafhanklikheid
• Lewensfiksheid
• Kritiese denkvermoë
• Gereedheid vir die uitdagings van die lewe
Dít om maar net ’n paar te noem! Die basis vir die sukses van hierdie “ideale produk” is ’n vennootskap tussen ons ouers, leerlinge, personeel en die beheerraad.
Ek, die bestuurspan en die beheerraad het dit ons doelwit gemaak om Windhoek Afrikaanse Privaatskool se visie, nl. om die toonaangewende skool in Namibië te wees, optimaal te realiseer, deur uitnemendheid oor die volledige spektrum van kurrikulêre en buite-kurrikulêre aktiwiteite te handhaaf.
By WAP werk ons leerlinge getrou om van WAP die puik skool te maak wat dit is. Ons leerlinge blink uit op akademiese-, sport- en kultuurvlak. Elke leerling weet ons skool is ruim genoeg sodat elkeen van hulle volgens hul eie aard en talente kan ontwikkel en ’n bydrae kan maak tot die samelewing.
Ons personeel is nog van die geesdriftige en passievolle tipe wat eienaarskap en verantwoordelikheid neem vir die hoë standaard van die produk wat ons na twaalf jaar die wêreld instuur. Ons personeel besef die toekoms is elke dag in hulle hande.
Hier by WAP droom ons van sukses en merkwaardigheid – ’n lewe van betekenis. Ons hoop ons stuur mense die wêreld in wat ’n verskil wil maak, ongeag hul titels, posisies, prestasies of rykdom.
WAP se leuse: “Geloof, hoop en liefde”, maak ons wie ons is, omdat ons dit leef! Ons handelsmerk: Christen, Afrikaans en ’n strewe na uitnemendheid in akademie, sport en kultuur, maak ons die toonaangewende skool in Namibië.
Groete, Alida Hill
Hoof Uitvoerende Beampte